Dis ’n kuns om ’n kind oor verantwoordelikheid en gevolge te leer.
Rooymamma wonder dikwels of haar woorde en sedelessies ooit by haar seunmens se ore ingaan – maar net totdat die suigeling die rympie onverwags aanhaal en dit haar soos ’n boemerang tref. ’n Gevoel van trots en “jy is uitgevang” word saam-saam ervaar.
Gisteraand storm Rooymamma die kamer binne.
“Jammer julle, Mamma het weer te lank oor die foon gepraat,” sê sy met die intrapslag, haastig om beheer oor die aandroetine te herwin.
Terwyl sy vir die kinders tandepasta op hul tandeborsels sit, sê Oudste hande op die heupe: “Wie se mond is dit? So wie se verantwoordelikheid is dit?”
In dié oomblik van verbasing en trots kom Pappa die badkamer ná die jaarbeplanningsvergadering binne. Belanghebbendes by die dorp se doen en late word daarheen genooi sodat datums van gebeure nie oorvleuel nie. Slegs die dominee, skriba en koördineerder het vanjaar opgedaag.
Wie se dorp is dit? Wie se verantwoordelikheid is dit om te help bou aan ’n gevoel van samehorigheid?
Ten tyde van Sondag se doopdiens is ouers opnuut herinner aan hul beloftes (om kinders aan Goddelike deurbrake te herinner en hulle van God te leer en laat leer).
In ’n goddelose wêreld, waar is hierdie oorvertellings wat geloof aanvuur en ’n Godgegewe opdrag is? Wie se verantwoordelikheid is dit om deur getuienis die wêreld te verlig?


