Rooyma het, lank voordat Sussie gebore is, gebid dat die kleinding ’n “iron lady” moet wees. Min het sy gedink dat dié ystervrou al van kleuterdae af haar yster sou wys – dit saam met ’n goeie skoot “ladiness”.

Die jongste daag gereeld by Ouma Lappies op vir ’n verfie op elke nael, om ’n string krale te leen, of om vir haar ’n rokkie te maak. Sy kruip ook graag onder Ouma se vlerk in, veral nadat sy kliphard verklaar: “Ek wil nie Alfas toe gaan nie. Ek wil bly,” wanneer haar ma haar aanmoedig om kinderkerk tydens die erediens by te woon.

Die gemeente lag, en Rooyma, met ’n rooi gesig en effe afgehaal, moet toegee.

Ouboet, die sensitiewe siel, is beslis nie ’n lammetjie nie, al verklap sy gesig soms sy gedagtes as hy nie sy gevoelens verwoord nie. Rooyma vra hom een middag om sy ouma, wat gang-af bly, te gaan roep vir ete. Sy antwoord is vinnig en reguit: “She’s your mom. Why don’t you do it?”

Hoe vier ’n mens die skerpsinnigheid en dapperheid van jong lote, terwyl jy innerlik jou voet wil stamp?

Anderdag stry die Rooyouers oor ’n nietigheid. Pappa sug hoorbaar en fluister iets in Oudste, wat op sy skoot sit, se oor. Siende dat Boetie nog selde ’n geheim kan hou, klik hy: “Pappa sê ons kan net vir Mamma bid.”

Effens geïrriteerd probeer Rooyma om die verleentheid in ’n geleentheid te omskep en sommer ’n Bybellessie in te werk: “Ja, die Bybel sê mos, bid gedurig,” sê sy in ’n gedwonge gedempte stemtoon.

Met selfvertroue en sonder skroom antwoord Oudste: “Ek dink dis oor, en spesiaal vir, Mamma dat die Bybel so sê.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article