“Far too often, the best thing I can have in my hand when someone makes a promise is a really big broom so that I can sweep up the broken pieces.” – Craig D. Lounsbrough

Glasskerwe, hope oorgroeide gruis langs paaie waar slaggate vir die soveelste keer gelap word, weggooibabadoeke, hoenderbene, plastiekbottels, vloerteëls, posstukke.

Dis die landskapskilderye van tonele langs spogwoonbuurte en langs townships. Gevlekte matrasse, ou skoene, vrot pampoene, kouse sonder maats, skoene gelap met mielieblare.

Eens op ’n tyd was die weggooigoed nuut, blink, vol belofte. Soos die lappop wat alles geglo het wat haar belowe is. ’n Nuwe huis met elektrisiteit en lopende water, vullis­verwydering en waardigheid.

Elke jaar, wanneer sy die eens blink geskenkpapier en leë bokse weggegooi het, het haar nate al meer losgetrek.

Voor elke verkiesing het die hoop opgevlam, die beloftes neergereën. Nadat sy ’n kruisie getrek het, was sy meer gedaan, meer stukkend.

Daarna was sy weer onsigbaar vir diegene in omheinde reusehuise met blink motors en duur horlosies. Indien sy verby die lyfwagte kon kom, sou sy nie hul oë agter hul sonbrille sien nie, net haar weerkaatsing. Haar karige bestaan in haar siel geëts, haar hoop meer verskroei, soos die aarde om haar. Sy kon haarself sien smeek, maar kon nie haar eie stem hoor nie.

’n Vermoede dat hy haar ook nie bokant die wit geraas wou hoor nie.

Soos die angelier het sy gekwyn onder die reënval van leë beloftes.

Waar is die hoop?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article