Moenie jou bekommer oor wat ander van jou dink nie. Leef vir die oomblik. Vertrou jou instink. Luister meer. Vat ’n ruskans. Speel gereeld. Wees nuuskierig. Wees vergewensgesind. Wees positief. Moenie veroordeel nie. – “10 Helpful Life Lessons you can Learn from your Pet” op learningliftoff.com

Bostaande beskryf die begrip, geduld en liefde van ons troeteldiere.

Ons, die eenvoudige homo sapiens wat ons eie IK kan meet en dit vir oorlewing inspan, moet lesse van diere leer.

Soos by my huis. Ouhond gee nie ’n duit om dat ek soms katterig met haar is nie, sy bly lief vir my. In Vethond se oë kan ek niks verkeerd doen nie, al skinder ek oor haar vetrolle en bekkie wat so verwonderd oophang.

Ouhond vererg haar nie wanneer Vethond op haar pote in die winterson op die mat lê nie. Sy skuif maar net weg. Geen vloermoere nie. As Ougathond haar bed steel, klim sy in ’n ander een in. Wanneer Vethond se dik stert haar deur die gesig klap, draai sy net haar kop weg.

Wanneer Ougathond voor haar by die kosbak indruk, wag Ouhond maar geduldig haar beurt af. Al weet sy sy is die alfa-hond wat hom kan verwilder, doen sy dit nie.

Die drie is altyd lus en reg om te gaan stap. Geen flou verskonings nie. Hulle slaap wanneer hulle moeg is, eet wanneer hulle honger is. Speel met die bal om my ook oefening te gee.

Hulle is terapeute wat mense-lag en -trane verstaan. As dit by empatie, deernis en emosionele intelligensie kom, wen die feilbare mens beslis nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article