Rooymamma tik op haar skootrekenaar dat dit na ’n gerinkink klink. Haar kop is so hard besig met die bewoording van ’n artikel oor die belangrikheid van ’n kommunikasieplan vir skole, dat sy hop van die skrik toe Dominee langs haar praat.
“Jy moet ophou speel op Facebook, hoor,” onderbreek hy Mamma se werksgang.
Hy wys na die foon: lidmate van ’n vorige gemeente wens haar hartlik geluk met haar verjaardag.
Mamma skrik, maar Pappa die Logiese lig haar in dat Facebook sê sy verjaar vandag, al is dit ses maande vroeër as die datum in haar ID-boekie (sy stel uit om ’n ID-kaart te kry).
Die Rooyspan bekyk die 2005-geboortedatum wat dié platform aandui.
“Bokkie, ek is weer 18!,” jubel Mamma.
“In ag genome dat ons oudste agt jaar oud is, dink ek jy moet dit verander. Dit laat my baie verdag lyk,” stel Rooypappa voor.
Mamma stel die datum reg en plaas ’n ek-is-jammer-boodskap en ’n verduideliking op haar profiel: “Jammer, mense. Ek verjaar nie vandag nie. Ek wou toegang tot ’n app hê en het ’n lukrake datum gekies. Hou die biltong en sjokolade tot 1 Oktober.”
Te midde van die fout se regstelling en bekentenis, stroom die gelukwense op die Samsung tot laataand in. Rooymamma sê nietemin dankie vir die boodskappe.
’n Mens kyk mos nie ’n gegewe seënwens in die bek nie? (Dit is wel jammer Mamma se skimp is nie voor die blaps gemaak nie, want niemand het met sjokolade of biltong by die nuwe pastorie opgedaag nie.)

