Soggens vra Oudste sy suster of haar onderste voortand al uit is.

“Jy kan geld kry, Sussie. Jy moet net jou tand in jou tandunicorn sit.”

Ná ’n klein muispandemie in die pastorie, is selfs ’n lapmuis met ’n buidelsak verbode.

Ouma Lappies se kunsvernuf het ’n eenhoringperd van lap opgetower. Dié hang geduldig aan Sussie se kamerdeur “sodat die muis kan weet waar om die tand te kry”.

Een oggend, ná nog ’n futiele wikkelsessie aan die rateltaai en hardegat melktand, probeer Oudste haar troos.

“Moenie worry nie, Sussie. Ons Tandmuis is ryk.”

Rooyma vra verward waarom hy so dink.

“Want tannie Helene sê sy kon in haar tyd net toffies van die geld koop. Ons kan ons geld spaar.”

Oudste se benul van sy spaarvark se pens is verwronge, maar optimisties. Die vorige aand het hy onbaatsugtig verklaar sy pa kan by hom geld leen vir ’n Jimny. Dit nadat ’n gemeentelid ’n afbeelding van die nuutste boksvormmodel vir Rooypa gegee het. Rooyma het besluit dit hoort aan die gesin se “droombord”.

Die nuus van die “nuwe” Jimny is op WhatsApp gedeel, maar het vure doodslaan geverg. Ondanks die verduideliking dat dié model nie brandstof benodig nie, het sommiges gedink die Krugerrande is onder die pastorie se vloerplanke ontdek.

Rooypa het dit verder uitgebyt: “Ek moet dalk my tand gaan terugvra wat die tandarts verlede week getrek het. Dalk ruil die Tandmuis dit vir ’n Jimny.”

Elkeen koester drome, sommige benodig net meer Krugermunte as ander.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article