“It is never too late or too soon. It is when it is supposed to be.” – Mitch Albom, The Time Keeper
Dit is nou of nooit, en nooit is nooit te laat nie.
Mooi treffende woorde.
Dit is eers wanneer jy daad by die woord voeg, dat dit jou opval hoe waar dit is.
Dit gebeur wanneer ander mense van enige ouderdom jou met hul dade inspireer en met bewondering vul.
Wanneer hulle nie meer talm en verskonings uitdink nie.
Dit is nooit te laat vir ’n gelukkige kinderlewe, om wys te wees, om meelewend te wees, om slegte gewoontes te laat staan, om net iets te doen wat jy lankal begeer. Iets wat jy vroeër nooit sou waag nie.
Dalk het iemand boeie aan jou voete gesit, dalk het jy nie tyd, vryheid of moed gehad nie.
’n Mens het net enkele dekades op die aarde om te leef.
Vanaf babastadium, groei jy elke dag fisiek en in bewustheid en ontwikkel in iemand met begeertes en drome.
’n Baba van twee weke se eerste weke op aarde is reeds verby.
Só kondig ’n bejaarde weduwee-tannie van my op ’n dag aan sy gaan na Europa reis. Klaar. Sy gaan lande en plekke besoek om nuwe ervarings en herinneringe in haar lewensboek op te teken.
Sy bel die agentskap, kry die besonderhede, bespreek haar plek en betaal ’n deposito binne ure.
Dit is nooit te laat om die lewensreisiger in jou lig en asem te gee nie.


