Die oggend van Sussie se sesde verjaardag kom sy om 05:00 in haar ouers se kamer ingestorm.

“Good morning! Wakker word, ek verjaar!” jil sy in die skemer.

Van daardié oggend af is Sussie nie meer op haar mond geval nie en laat ook nie meer op haar wag nie.

’n Week later wil sy haar speelgoedkis geskuif hê. Rooyma antwoord laks: “Môre,” en stuur ’n skietgebedjie op dat Sussie van haar idee moet vergeet. Nie lank daarna nie kondig Sussie trots aan: “Ek het klaar geskuif.”

Rooyma vra verbaas hoe sy dit reggekry het. “Ek is bietjie sterk,” antwoord sy met ’n breë glimlag.

Op die eerste dag van gr. R besluit hierdie tuisonderrig­leerling sy het nie tyd vir die tradisionele begin-van-die-jaar-kiekies nie. Sy kondig aan sy het ’n pouse nodig en kies hasepad.

Wanneer moet-doen-takies aan die deur klop, is sy voorbereid op ’n antwoord. Kamer skoonmaak: “I am still busy.” Skottelgoed wegpak: “I am so tired, I’m getting dizzy.” Tande borsel: “I am scared. You do it.” Gesig was: “No thanks.” Badwas: “I am not a cleaner, you know.”

Haar gunstelingwoorde, “you know,” gebruik sy vol selfvertroue as ’n punt aan die einde van haar sinne. “I want a rainbow on the walls, you know. I’ll show you a rainbow,” en sy swaai ’n boog in die lug met haar arms.

“Jy het ses jaar gelede gebid vir ’n selfversekerde dogtertjie,” herinner Rooypa sy vrou gereeld en kry ’n skelm lekkerkryglimlag.

Spontane antwoorde, verskonings en skietgebedjies is bewys dat die Rooykinders altyd verras, of jy daarvoor bid of nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article