“Am I tough? Am I strong? Am I hard-core? Absolutely. Did I whimper with pathetic delight when I sank my teeth into my hot fried-chicken sandwich? You betcha.” – James Patterson
Wat is ’n mens sonder sy smaak- en reuksintuig, sy sintuiglike en intellektuele vermoë om van doodgewone en ongewone bestanddele kulinêre kunswerke en smaaksensasies op te tower?
Kos verskaf nie net energie om nog ’n dag op aarde te trotseer nie. Spys roer jou siel tot in sy diepste. Dit laat jou oë feesvier en ore prik wanneer vetjies op die vuur drup. Hoendervel slaan uit wanneer jy tande in ’n stuk fudge slaan en die soetigheid deur jou eter loop.
Selfs diere word deur menskos betower. Soos die hond wat sy lippe aflek wanneer ek die oonddeur oopmaak en hy die vars gebakte beskuit in die oë staar, skaars ’n hap weg.
Wat is ’n lewende wese in die winter sonder bredie? ’n Somer sonder slaai, ’n herfs sonder sop, ’n lente sonder vars vrugte?
Wat is ’n harde werksdag sonder ’n dik gevulde toebroodjie in ’n kosblik? Wat is braaivleis sonder ’n braaibroodjie, pap sonder sous, slaptjips sonder tamatiesous, boerewors sonder blatjang, pizza sonder kaas, vetkoek sonder maalvleis, pannekoek sonder kaneelsuiker, melktert sonder vanielje, roomys sonder malvapoeding, lamsblad sonder aartappels, sop sonder croutons, pap sonder melk, koekies sonder gemmer, avokado sonder suurlemoensap, roerbraai sonder uie, skaapboud sonder sous, bobotie sonder rys, mielies sonder botter?
Gedoem.

