“The thing about a spiral is, if you follow it inward, it never actually ends. It just keeps tightening, infinitely.” – John Green, Turtles All the Way Down
Dit was die winter van Julie 2023. Die son het ewe heilig geskyn, ’n skyn dat alles normaal is. Die snerpende wind wat deur murg en been gesny het, deur hart en siel geskeur het, was ten minste meer eerlik.
Agter die bure se deure het kospotte gepruttel. In ’n ander woning het ’n meisie en haar maatjie op ’n bed gespeel. ’n Man het sy skedonkie gewas. Elders het iemand aan ’n muur geboor.
Dit was ’n Sondag. Die dag van die lig van die son. Dit was nie.
Agter een voordeur het die radio gespeel. Net hard genoeg om geselskap te wees.
Andersins was dit grafstil.
Die voordeur was nie gesluit nie, net aan ’n ketting gehaak.
Gewoonlik was dit dig gesluit om mense buite te hou. Behalwe vir vandag.
Iemand vermoed iets, haar foon is te stil. Sy is nie jonk en gesond nie. Die diepte van die alleenheid agter die deur, te midde van verwese troeteldiere, ontstigtend. ’n Afgesonderdheid wat asem beroof en oë oopsper.
Alleenheid in spinnerakke vasgevang, in stof verweef. Hoe dieper ’n mens in die spiraal afsak, hoe meer ’n gewatertrap.
Hoewel geliefd en betrokke in die gemeenskap, was niemand tuis wat ’n stem, gemeensaamheid, geselskap en ’n grappie kon deel nie. Of nooddienste kon bel nie. Buitekant loop mense onbewus rond. ’n Lykswa ry stadig deur die slaggate.




