Kort voor slaaptyd lees Mamma oor Johannes die Doper.
Sy herinner Oudste Jesus is Johannes se nefie, en vra vir Oudste wat sy nefies se name is.
Hy gooi eers wal dat hy hulle net oor die skerm sien en nie eintlik hulle of hul name ken nie.
Daarna vra Mamma weer wat Jesus se nefie se naam is.
Onseker en skuldig antwoord hy: “I don’t know.”
Mamma maak groot oë en gee die regte antwoord.
Sy sê Pappa se tweede naam is ook Johannes en verduidelik wat dié en sy eie name beteken, en hoekom hy en sy sussie gedoop is.
Heel van onderwerp af val Oudste weg met sy droom om eendag die wêreld te regeer.
“And I want a stone army,” voeg hy by.
Mamma probeer die leisels weer vasgryp en verduidelik ons grootste werk is om vir God en sy mense lief te hê.
Later, na aanleiding van die “shiny old house”, wat die betekenis van sy name is, verklaar hy hy gaan eendag ’n ou huis koop.
Hy gaan dit in ’n tempel verander en almal wat nie glo nie, in ’n hok toesluit.
Mamma sê die ongelowiges moet juis van Jesus hoor sodat hulle ook hemel toe kan gaan.
Oudste verseker haar hy sal hulle dan dáár van Jesus vertel.
“There they can’t run away. They just have to listen to me.
“See, I am a clever clock,” antwoord hy ingenome.
Mamma wonder of sy Ouboet ook eers moet toesluit sodat hy kan luister.

