“So do we pass the ghosts that haunt us later in our lives; they sit undramatically by the roadside like poor beggars, and we see them only from the corners of our eyes, if we see them at all. The idea that they have been waiting there for us rarely crosses our minds. Yet they do wait, and when we have passed, they gather up their bundles of memory and fall in behind, treading in our footsteps and catching up, little by little.” – Stephen King, Dark Tower Set

Gedaantes verskyn teen die wit lig langs die snelweg.

Komberse en beddegoed hang soos swart mantels om hul skouers.

Die snelweg verlate, want elders betoog die rooi barette.

Dis net ons en die gedaantes met hul swart bondeltjies. Hulle gooi nie duim of bedel nie.

Geen spertye, bestemmings, afsprake, aflewerings of vakansies vir hulle nie. Die snelweg is die dun lyn tussen wêrelde.

Die plek van die padgedaantes.

’n Onderwêreld, ’n bowêreld, ’n tussenwêreld. Elkeen sweef op sy eie, op sy eie stuk aarde langs die streep teer. Hulle beweeg nie in pare nie.

Skynbaar het elke gedaante sy eie stuk van die hoofweg afgesteek. Telkens net die verskyning van enkele figure.

Sou hulle nog ’n taal praat, as hulle ooit praat? Eet hulle, slaap hulle?

Die bestemming? Hulle beweeg seker net tussen brûe, steek dit nooit oor nie. Lank gelede het hulle reeds die rivier oorgesteek.

Is hulle ooit in hierdie lewe, of is dit ek wat die pad byster is?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article