Dit het begin by een stukkie mosterdsaad-grootte oranje wat om ’n duistere rede van Mamma se kleurryke kunsnaels afgebreek het.
Haar verlengde, superharde kunsnaels het van vingers tik-tik teen oppervlakke gehou. Totdat daardie splinter-oranje soos ’n wolstertjie aan onvoltooide breiwerk haar in die versoeking gelei het. Mamma se selfbeheersing het verdwyn.
Twee uur lank probeer sy die harde, kleurryke doppe van haar naels afskil. ’n Naald word met hefboomkrag onder die vals doppies ingedruk en heen-en-weer gewikkel. Die verlengings wat oor haar vingerpunte steek, knip sy af nadat haar vingers in asetoon gebaai is.
Haar pinkie begin bloei van die ru werkery. Eindelik, kort voor middernag, lê ’n kaleidoskoop van naelsnysels langs haar. Haar naels se oppervlakte is oneweredig met verharde, witterige jel oorblyfsels.
Sy probeer dit met ’n voetskuurder en naelvyl gelyk vyl terwyl haar bloed- en skandvlek op haar pinkie pyn.
Die volgende dag steek sy eers haar hande vir die naeltegnikus weg; soos ’n stout kind ontbloot sy dit uiteindelik skaam.
“Ek het bollie aangejaag, jammer. Ek weet jy het gesê ek moenie dit self afhaal nie . . .”
Ondanks die tegnikus se beste werk, vermaning en simpatie bly die rooi skandvlek sit. Die pyn kry oplewing sodra die kleinste vingertjie aan ’n oppervlak raak.
Mamma vertroos haarself dat genesing wel sal kom en hoop vir meer selfbeheersing saam met haar pinkie se heelword.


