“Self-care is, fundamentally, about bringing balance back to a life that has grown imbalanced from too many commitments or responsibilities.” – Robyn Gobin

Dagboeke. Afsprake wat nagekom moet word. ’n Gedurige gekyk na die datum. Wolf, wolf, hoe laat is dit? Wanneer is die afspraak? Hoeveel tyd is daar?

Doenlysies. Namate take afgehandel word, teel hulle op ’n onverklaarbare wyse aan en baar meerlinge.

Selfone. Dit gons aanmekaar en oproepe kom gelyktydig deur. Moet jy een oproep kortknip om ’n ander te antwoord? Intussen is jou aandag verdeeld en luister jy nie eintlik nie.

E-pos. Die rekenaar teem aaneen terwyl elektroniese pos jou inboks bombardeer, baie daarvan dringende versoeke uit Nigerië.

Sperdatums. Stemmige koerante met beperkte ruimte het vervaag; wellustige digitale webblaaie verorber ontelbare stories. Die versoeking is om sewe dae lank dag en nag te werk.

Ons moet die daaglikse eise aan sielsgesondheid hersien en werkswyses verander. Kan dagboeke nie meer oop, wit ruimtes kry nie? Maak meer afsprake vir teedrink, koek eet, hare doen of vir fisioterapie-sessies. Doenlysies moet beperk word tot ’n sekere aantal take per dag, kom wat wil.

Druk die e-pos en selfoon se gorrels oor etens- en teetyd toe. Staan op van jou lessenaar en slaan die deur toe. Eet middagete met genot, lek aan ’n roomys en kyk oor die tuin uit. Luister na die voëlsang en asem die vars lug in.

Doen jou werk getrou geduren­de kantoorure, maar verdedig jou selftyd jaloers met ’n lans. Vervang skuldgevoelens met selfsorg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article