Kameeldoring: Respek sypel weg soos ‘groen lekkende rioolwater’


“It is not power that corrupts, but fear. Fear of losing power corrupts those who wield it and fear of the scourge of power corrupts those who are subject to it.” – Aung San Suu Kyi, Freedom from Fear

Dag na dag, nag na nag. Die land se sake lyk al donkerder. Is daar lig? Net hier en daar as jy na Kimberley se straatligte kyk.

Dit wat nie werk nie, is omgestamp en word nooit reggemaak nie. Ander straatligte se siele is uit hul elektriese kabels gesteel. Die oop mangate lyk soos die gapende bekke van monsters uit die fliek Poltergeist.

Jy en jou kar kan enige oomblik ingesluk word. Groen lekkende rioolwater sluip soos geeste in ons strate, ons huise, ons siele. Krane is so dor soos die droogste woestyn waar daar geen oase van hoop is nie.

Onkruid staan hemelhoog op sypaadjies waarvan die plaveiselselstene óf vermis óf verkrummel is. Oorkant die landdroshof waar geregtigheid moet geskied, hang ’n urienstank en word die gehawende geroeste vurkheining deur drankmisbruik en maagsure weggevreet.

Hier sal jy nie sommer die premier of die burgemeester sien nie. Hulle leef skynbaar in ’n parallelle heelal waar daar glo net klein probleme heers “wat aangespreek is”.

Waar is die eerlikheid, respek of verantwoording? Siende blind en horende doof vir die lyding op voetsoolvlak mors hulle belastinggeld op peperduur koeëlvaste ampsmotors met getinte vensters en lyfwagte, en jaag van een dinee na ’n ander in die sogenaamde moderne, groeiende en suksesvolle provinsie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article