Bloem-ouma se sosiale lewe het spoed gekry ná pensioen en haar trek na die Wille-Weste. Hoewel sy haarself met die “naaldewerk” en die Rooyspan besig hou, kry sy tog af en toe te doen met mense buite die pastorie.

Ná bykans twee dekades op haar eentjie en met ’n voorliefde vir onafhanklikheid is sy nie op soek na ’n Adam, Barrie of Chris nie. Sy draai haar nek sywaarts wanneer ’n oom haar wil druk.

Sy kyk of daar spinnerakke in die hoek van die vertrek is wanneer iemand ’n koffie-kuier-skimp in haar rigting gooi.

Aan die middagetetafel, en ná ’n kuiergeleentheid vir post-werkendes, lap haar skoonseun uit ’n omie het hom eers toestemming gevra om vir Ouma Lappies ’n gunsie te vra.

Soos ’n vetgesmeerde hoender laat die dominee hom uit die gesprek. Ouma bevestig of sy reg gehoor het, verstik byna aan haar sap en sê summier sy is te besig vir ’n mansmens.

Parmantige Pappa vra vir Sussie of sy wil hê Ouma moet uit die pastorie trek. “No. My Ouma,” antwoord Jongste.

Moedswillige Mamma vra of sy ’n oupa soek. “No,” sê jongste beslis. Sy trek haar neus op ’n plooi. Mamma sê die oom sal ’n goeie Kersvader kan maak.

“You’re funny, Mamma,” sê sy en bars uit van die lag.

Sy begin “Happy Birthday to Ouma” sing. Daarna volg “ho-ho-ho” saam met ’n jillende gelag uit haar maag.

Ouma reken die Rooyspan is verspot, maar net dalk bring Kersvader blomme vir Ouma op Valentynsdag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article