Yesterday’s the past, tomorrow’s the future, but today is a gift. That’s why it’s called the present. – Bil Keane
Daardie dag het soos enige ander begin. Die gewone roetine (waarvan ’n mens kort-kort moet wegbreek): opstaan, eet, werk en kosmaak. Die regskuif voor die beeldradio om gunstelingprogramme te kyk. Die beeldradio is gewoonlik nukkerig, asof dit nie lus is om aangeskakel te word nie. Dit hou meer van ’n heeltydse toestand van rus.
As ’n mens nou daaraan dink, het dit eintlik altyd teengeskop. Dit kon nooit die misdaadprogramme waarop sy mense ingeskakel was, verduur nie. Al die bloed, wraak, belustigheid en duiwelse begeertes was te erg vir die beeldradio se sensitiewe siel.
Vir die beeldradio was daardie dag ’n jubelende gebeurtenis: die dag toe sy bose tweeling, die dekodeerder, sy laaste asem uitblaas. Nie net is die beeldradio se siel verlos nie, maar sy mense s’n ook.
Hy kan nou net besielende reisprogramme of musiekkonserte van YouTube stroom. Sy mense het ook hul tyd teruggekry. Tyd om saans kos te berei met geure wat tydsaam ontwikkel.
Stoepsit en uitkyk oor die tuin waar die lysters vlerksleep, die tiptolle soos wafferse vegvlieëniers deur die lug klief, byvreters in vaart kleurige vere vertoon. Die honde kan elkeen met ’n ekstra kopkrap bederf word. Die swembad kry ’n borsel en groente word geplant.
Die mense gaan slaap nie meer met ingebrande flitsende rasende elektroniese beelde nie, maar met rustige vrede.



