“I like to watch people. Sometimes I ride the subway all day and look at them and listen to them. I just want to figure out who they are and what they want and where they’re going.” – Ray Bradbury, Fahrenheit 451

In my stad hoef en kan ons nie moltrein ry nie. Dit bestaan nie. Lank gelede was hier trems.

Maar die munisipaliteit se laaste trem staan al meer as ’n jaar lank doodstil; blykbaar kort dit ’n onderdeel of wat.

Maar ons staan steeds in rye.

In ’n tou êrens by ’n bank, taxistaanplek, lisensiekantoor of by ’n vrugte-, koffie- of kos­stalletjie. Saam met mede­aardbewoners.

Interessanter as vlieënde buitensteruimtevreemde wesens.

Die twee behulpsame, tandelose ooms by die liksens­kantoor wat die kortpaaie in die lewe vir my verduidelik.

Die vriendelike amptenaar wat in my moedelose en pleitende gesig staar, langs my kom sit en die vorm vir my invul terwyl ek sweet afvee.

Die karakter by die binnelandsesake-kantoor wat ’n hele komiese drama opvoer om te verduidelik hoe lui sommige munisipale werkers is.

Die oom met sy kierie in die ry by die kosstalletjie dra luid­keels sy staaltjies oor. Klaag­liedere oor dokters wat nie op hom wil opereer nie. Hy het mos ’n ander een se hart, die longe swart gerook. Hy praat nie oor die ronde lyfie nie.

Op ’n ander keer is dit ’n koekbakkende en koekversierende sportman wat voggies stook, en meubels en mooi goed versamel.

Hulle maak menswees lekker.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article