Soggens om die ontbyttafel deel die Rooyspan hul take en planne vir die dag met mekaar.
Mamma voorspel hul vriend behoort later vir sy gebruiklike Dinsdagmiddagtee by die pastorie aan te kom, maar verwys na hom as “Dinges” in ’n lugborreloomblik waartydens sy naam vergete is.
Later die middag kondig Oudste die einste gas se koms aan: “Mom, Dad. Oom Dinges is here!” Kliphard. Kinders kan op die onmoontlikste tye doodeerlik, selfs onvanpas, wees en uitdrukkings letterlik opneem.
Só vertel Ouma Bloem sy hoef nie meer ’n bril te dra nie, want sy het ’n nuwe lens.
“Did you lose your old one?” vra Oudste.
Die volgende dag verstaan hy nie toe Rooymamma sê Ouma dra nie haar “ore” (gehoorstukke) nie.
“But it is there, I can see it. I didn’t know one can take it off?”
Anderdag is sy pa in ’n lawwe bui, wat Oudste amusant en tog ook kommerwekkend vind. Hy vra hoekom sy pa in só ’n bui is.
“He’s lost his marbles,” verduidelik Rooymamma kortliks.
Vir ’n kind op die spektrum is hierdie uitdrukking letterlik.
“Let’s go to the store and buy him some more,” sê hy besorg en ernstig.
Die waarde van die uitdrukking ontbreek, maar dit is verblydend toe hy hom twee dae later, toe hy sy Lego’s verlê het, kliphard en spontaan tot gebed wend. Oudste se besorgdheid om goed wat figuurlik gesproke vermis is op te spoor en sy geloof in die krag van gebed is prysenswaardig.
Hoera vir kinders wat glo, die lewe soms letterlik opneem en hul sin vir avontuur behou.

