Rooypa preek: “Leef asof elke oomblik op kamera vasgevang word.”

Rooyma wil onder die kerkbank inkruip, want nog ’n oggend voor kerk is deur ’n dosis dreigemente, ’n waarskuwende wysvinger en mini-oorlog in die pastorie voorafgegaan.

Boetie was nie lus vir foto’s neem nie en Sussie wou net “pose”. Sy het die dak laat lig oor iets onbenullig soos om kouse by haar stewels aan te trek. Dit was iets massiefs in haar wêreld en ’n hoogtepunt van ’n byna sesjarige se verset. Rooyma is as huigelaar met dubbele standaarde ontbloot toe sy haar vinger by Rooyma se vellies indruk en die afwesigheid van geheime kouse uitwys.

Verduidelik aan ’n kleuter die ongemak van ’n parmantige byna-kous wat van ’n voet afgly en soos ’n boerbok onder jou voetsool baljaar, dreigend vir uitkomkans.

Ná die preek vra iemand in die belydenisklas wat “onberispelik” beteken. Rooypa verduidelik “berispe” en gebruik die voorbeeld sy sub A-juffrou se voorliefde om ’n palm met ’n liniaal te piets wanneer hy verkeerd sou spel.

“Leef so dat niemand ’n rede sou kry om jou oor die kole te haal nie,” herformuleer hy.

Rooyma wil op haar neus kyk dat Rooymier 2 haar uitgevang het op die kous-klousule. Die middernagtelike wakkerlê-ure herinner Rooyma aan haar dade en woorde wat eerder nie moes gebeur, of “opgeneem” moes word nie. Foutiewe afleidings, aannames en “maak soos ek sê, nie soos ek doen nie” deurspek die pad na konflik.

Leef só asof jou kinders elke oomblik sien, want hulle sal jou teenstrydighede soos ’n partydige rugbyskeidsregter uitwys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article