Man who is created alone should be aware that he will also die alone. Yet during his life, he lives almost addicted to possessions . . . the only assets one can take with him when one dies is one’s belief or disbelief. – Harun Yahya

Ek glo sy wil deur die poorte gaan met een wete; ons liefde wat haar omgeef. Die geloof dat haar 14-en-’n-half-jaar op aarde saam met ons elke nanosekonde werd was. Aardse besittings het sy baie gehad.

Tennisballe, seker 30 of meer. Aanvanklik was hulle lekker hard, maar haar tande het hulle sag gebrei. Dan is dit afgeskil, gehalveer en verkrummel. Die meeste daarvan het uiteindelik op die gras in landmyne en in ’n heel ander vorm te voorskyn gekom. Die sokkerballe het soortgelyke eindes gehad.

Die hokkie- en golfballe is grofgeskuur met daardie einste ivore in haar bek.

Dan was daar vele handdoeke waarmee tougetrek is, gate wat gegrawe en hadidas wat gejaag is. Die daaglikse avonture wanneer ons gaan stap het. Die grashalms wat eenkant op en anderkant af gesnuif is. Molle wat gesoek is. Haar gebied wat afgemerk is. Bevele wat uitgeblaf is, het ons onderdane al laggend uitgevoer.

Nou, met haar geel oë wat bruin poele vol vrae geword, haar nekvelle wat hang, die pote wat onder haar ingee wanneer sy al agter ons aansukkel, weet ons wat kom. Al bewend toegedraai in komberse, voer ek haar ’n skaapvetjie, ’n hoenderlewertjie, ’n tee-gedoopte beskuitjie.

Sy moet weet dat wanneer sy gaan, ons daar is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article