Biblioteekbesoeke is die Rooyspan se tweeweeklikse hoogtepunt. Storie- en feiteboeke word saans om die beurt twee-twee bladsye voorgelees.

Selfs die FAK kry ’n beurt onder die Engelssprekende Van Rooyens.

Hul woordeskat-skatkis word fluks gevul en baie hiervan gebeur sonder koste danksy die tamaaie biblioteek wat die nuwe dorp bied. Boekrakke is ellelank en in die doolhof van verskeidenheid weet Oudste waar boeke oor dinosourusse en oseane is.

Sussie is skugter. Sy loop vinger in ma se hand voor die Afrikaanse boeke. Daarna volg die koerante en die soeke na ’n spesifieke remediërende boek wat so oud soos sy is om met Ouboet se Afrikaans te help.

’n Raaiskoot in ’n rigting is suksesvol en die heilige stilte word met ’n halleluja-uitroep verbreek. Die studente by die rekenaars verrek hul nekke.

Rooypappa kom nader.

“Wat doen jy? Jy steur Oudste!”

Hy wys na ’n foto op sy foon: Oudste sit voor naslaanboeke en bestudeer sy Star Wars-boek.

Rooypappa, ’n boekwurm van formaat, het reeds ’n paar dik fantasieboeke deur oorsese skrywers opgespoor wat sy groot versameling tuis nie het nie.

Die manne was op hete kole en kon nie gou genoeg aan die lees kom nie. Hul ongeduld is aangevuur toe Rooymamma eers nog deur die vrylik beskikbare munisipale verslae op die toonbank wou blaai en ook ’n gratis Zoeloe-praat-les by Queen, die bibliotekaresse, kry.

“As kennis gratis is, dan waardeer en gebruik jy dit,” sê Mamma toe Oudste begin kla.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article