“Your strength will be found when you stop struggling with yourself, instead of thinking everyone is a struggle worth overcoming. Every obstacle in life is a lesson that teaches us, not others.” – Shannon L. Alder

Die stryd is ewig.

Die stryd met die een in die spieël. Met wie jy al ’n leeftyd saamleef. Die een met wie jy saam oor besluite gewroeg het.

Die alewige binnekamer bepeinsing.

Soms is die stryd nie om die ergste te verwag of alles met agterdog te bejeën nie.

Die hindernisse, die uitdagings, die leë glas wat jy daagliks moet volmaak.

Doen dit kalm, beredeneerd, tydsaam.

Ignoreer die bobbejaan wat agter die berg uitloer en smeek om vrygelaat te word. Die een wat jy op hok moet hou, maar wat soms ontsnap.

As jy en alter ego hom toelaat, gaan hy nader hardloop, jou in ’n dolle bollemakiesie omarm en in jou oor fluister.

Met ’n asem nie te aangenaam nie, harige arms, oë te wyd of te naby aanmekaar, neus te lank.

Dit is hoe ondeurdagte oorhaastige optrede of opmerkings lyk.

Haal asem, drink tee, stel die besluit of optrede uit.

Vryf die hond se pens, loop in die veld, lees ’n boek.

Afstand van die probleem gee ’n nuwe perspektief of nuwe insigte.

Dink aan hoe vorige hindernisse oorkom is, lewenslesse wat insig kan gee.

As jy om en om die hindernis loop en van elke kant bedink, sal ’n nuwe lig uit ander hoeke skyn.

Die oplossing is in jouself.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article