“Forgive and set yourself free. When we forgive, we heal our own anger and hurt and are able to let love lead again. It’s like spring cleaning for our heart.” – Angie Karan

Ons het die draaipunt bereik. Uiteindelik, ná soveel jare en dekades.

Die tweede helfte van ons lewe het aangebreek. Ons kan uitgooi. Ophou versamel, koester, vertroetel. Verby met opgaar, vaskleef, hunker.

Wat klaar is, is klaar. Die houttennisraket, paddavoete, rokke, broeke, boeke wat ek nooit weer gaan lees nie, geraamde prente wat nie meer mooi is nie, kleurskyfies, foto’s, negatiewe, briewe, groetekaartjies, skoolboeke, tasse, kussings, duvets.

Noem dit, en ek het twee of drie daarvan, waarvan twee of drie na iemand kan gaan wat dit sal waardeer en gebruik en benut.

Weg, uit, voertsek, asseblief. Stof en as moet saam met die dinge wat nie meer saak maak nie die niet in. In die vergetelheid in verdwyn.

Anders as Lot se vrou moet ek leef vir vandag en môre. Ek wil weer asem haal, die horison sien, luister, leer, proe en smaak, alles beleef wat saam met goeters vasgekeer was. Dit is tyd om te vernuwe, my tweede (korter) lewe in elke asemteug in te drink en uit te leef.

Sonder dat ek oor iets val, moet uitkrap, vervaard soek, of kopkrap hoekom dit eens belangrik was. Ons is nie meer wie ons was nie, en hopelik word ons met ouderdom meer die mense wat ons wil en moet wees om betekenis vir ander te gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article