“Good old days? Whatever good in them may have been, they’re long past. No use crying over them now when they are but distant memories. I shall tell you the trick – in a person’s mind, all distant memories eventually grow tinted with rays of sunshine, and the toils and hardships the flesh and the soul have undergone get lost and forgotten.” – Tamuna Tsertsvadze, Galaxy Pirates
Vandag is geseënd. Dit het gereën, die son het in ’n glorieryke wolkemassa gesak, die melkweg het geskitter, die voëls het uitbundig gekwetter, die honde het gelag, geliefdes het my drukkies gegee.
Ons het gegons en na mekaar geluister.
Vandag het gister geword; ek moet hard dink wat het verkeerd geloop en waaroor ek wakker gelê het.
Soos eergister, en die dag voor daardie dag se kiekies. Onthou julle toe ons nog Sondae ná ’n bord boerekos roomys gaan koop of op en af in strate gery en na ander mense se huise gekyk het?
Of onbevrees deur die vensters van geslote winkels na TV-stelle of modepoppe gestaar het en nie heeltyd om ons geloer het nie.
Wanneer jy gaan uiteet het, was daar verkopers wat met bosse rose na jou tafel gekom en jou metgesel gevra het of hy vir jou een gaan koop. Daar was dae toe mense restaurante blou gerook het – dit is seker hoekom ek nie kan onthou hoe die kos gesmaak het nie.
Tiekiebokse in koshuisgange was gesellige vergaderplekke, wat nie, soos selfone en rekenaars, gevare ingehou het nie.
Veilig is ons herinneringe.


