Die Rooyouers staan dikwels met rooi gesigte . . . soos wanneer die staproete langer duur as beplan of omdat hul fiksheidsvlak suboptimaal is.
Ander kere is die bloosblos oor iets wat hulle of hul kinders sê – of in die predikantpappa se geval, iets wat hy per abuis in Google se soekblokkie tik. So tik hy per ongeluk “boob” in plaas van Bid or Buy se bob-webtuiste in toe Oudste sy aandag aftrek.
Mamma moes flink dink toe sy vir Sussie vra of sy dooddors is en die kleuter in trane uitbars.
“I don’t want to die. I can die after we went to Ouma Bos.”
Soms wil die Rooyouers hul voet namens die Rooykinders in ’n mond prop, soos die dag toe Sussie van teenoorgesteldes leer. Later die middag sien sy ’n vrou in die straat loop en sê kliphard: “Wow, she is big.” Gelukkig was die vrou se aandag op iets anders gevestig.
Anderdag help Ouma vir Oudste met sy wiskunde. Hy vra vir sy juffroumamma of dit reg is en is dankbaar vir sy ma se kopknik. Hy draai na sy Ouma: “Ouma, jy is reg. Wow, jy is slimmer as ek.”
Dinkflaters gebeur ook, ongeag goeie bedoelings. Ouma probeer Oudste oortuig dat hoogtevrees niks is om voor bang te wees nie. Mamma probeer die stelling ondersteun en tel Ouma sommer in die lug op. Rooigesig beland Mamma op die grond toe haar knieë knak. Ouma het betyds van die “perd” se rug gespring, maar die merrie se kleintoontjie het potblou verkleur.
Die Rooyes het nie altyd takt nie, maar met hul selfvertroue en moed skort niks.


