Met die aanbreek van die demokrasie is daar uitgesien na ’n Utopia, maar wetteloosheid en anargie het oorgeneem.
Dit het ’n kopskuif geverg om eienaarskap te neem van die bates van die gemeenskap.
Vergaderings, talle skrywes, noodlottige ongelukke, noue ontkomings en die traak-my-nie-agtige houding van die owerhede om op te tree is deel van ’n berugte pad.
Met die opening van die Rietfontein/Askham-teerpad op die R31 in 2008 was die meerderheid van die Mier-gemeenskap verlos van die gevaarlike gruispaaie.
In minder as twaalf jaar is die hekke en draadheining langs die pad gesteel en loslopende diere is nou ’n groot gevaar op dié pad.
Die basiese instandhoudingswerk van die pad het begin.
Volgens Sanral sal die kontrakteur die situasie monitor soos wat hulle daagliks die roete patrolleer.
Die diewe se onversadigde lus vir steel, het uitgewyk na die slagplaas, die stortingsterrein, begraafplaas, die munisipale en die plaaslike hoërskool se oksidasiedamme. Daar word net gesteel en niemand word vervolg nie.
’n Nuwe draadheining en hekke is onlangs langs die pad opgerig.
Ons kyk maar hoe lank dit gaan neem voordat dit ook weggedra word.
Sanral, die Dawid Kruiper-munisipaliteit en die departement onderwys moet dit oorweeg om hande te vat met die polisie en die gemeenskap.
Die aanbied van belonings wat tot die inhegtenisneming van die booswigte kan lei, moet ook oorweeg word.
Daar moet ’n groter bewustheid onder gemeenskappe gekweek word oor eienaarskap en verantwoordelikheid van bates.
Kwartaallikse rolspelersvergaderings moet ook gehou word om euwels in gemeenskappe te bespreek. – Meris Kocks, gemeenskapsaktivis



