“Sadly enough, the most painful goodbyes are the ones that are left unsaid and never explained.” – Jonathan Harnisch, Freak
Dit kan ’n wond bly as jy dit toelaat. ’n Letsel wat by tye brand. Weke lank sien of voel jy nie die letsel nie, maar op ’n dag is daar ’n klank, ’n gesig, ’n reuk, en herinnering.
Die hart krimp ineen. Vrae maal, ’n situasie word herleef. Die emosies van daardie tyd, die verwonding, die nagte dat jou worsteling Klaas Vakie verjaag het.
Die verlore vriendskap. Soos die ruïne van ’n katedraal. ’n Majestueuse gebou wat eens was. Waar vriendskappe gedy het. Die musiek van saamlag en skater, die koorsang van skinder en grapmaak, die lawwigheid en danspassies, wanneer te veel “nagmaalwyn” geniet word.
Die vertroue, die begrip, die saamwees. Die ure lange teedrinksessies, die heerlike vakansies saam, die gesprekke om gesellige vlamme.
Dan, op ’n dag, stilte. Gesprekke wat nie meer is nie. Gesels wat opgedroog het. Geen antwoorde, verduidelikings of wedersydse begrip wat die kloof kon oorbrug nie.
Klipmure staan getand en ontbloot. Aan wind en weer blootgestel. Die gras het alles toegegroei. Die kanse dat dit opgebou gaan word, uiters skraal.
Draai om, of af. Die lewenspad het ’n natuurlike vurk gemaak.
Wees nie bewoë oor dit wat jy nie kon sê en sy of hy nie die moed of insig gehad het om te verduidelik nie. Want nuwe katedrale het om jou verrys, verryk met ander mense, nuwe vriende.


