“It is more fun to talk with someone who doesn’t use long, difficult words, but rather short, easy words like “What about lunch?” – A. A. Milne, Winnie-the-Pooh

Jy kan dit nie verduidelik, omskryf of verklaar nie. Jy kan dit net waardeer, koester en bewaar. Net so uitdagend soos dit is om te beskryf, so moeilik is dit om die omvang in woorde vas te vat. Dit kan net in emosies en gewaarwordinge vasgevang word. Nie op papier nie, nie in ink nie, miskien in bloed wat deur ’n liggaam bruis.

Vriendskappe gee lewe, ’n doel vir jou bestaan, ’n warmte in hart en siel.

Natuurlik verloor jy vriende langs die pad, dis onvermydelik.

Paaie loop soms uiteen, kom by T-aansluitings, loop teen rotse vas. Maar standhoudende vriendskappe is soos ’n uitstappie deur die Richtersveld se blomme, met die blou hemelruim, vars lug, klank van vryheid, die begrip van verstaan wat net ’n kyk, ’n drukkie, ’n stemtoon benodig.

Vriendskap migreer na die wese en ’n diep wete.

Ons hoef mekaar nie elke dag of week te bel nie. Wanneer ons weer praat, tel ons net die drade op. Tog is dit lekker om met vriende op die ingewing koffie te drink, verjaarsdag te vier.

Te luister na hoogtepunte en laagtepunte. Te onderskraag, te vertroos, saam uitbundig te lag en agter bakhande te skinder. Saam in wese te wees, want daarsonder is ons niks nie. Sonder julle, my vriende, kan ons nie menswees vier en verduur nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article