I wasn’t there that morning;
when my father passed away.
I didn’t get to tell him,
all the things I had to say. – “The Living Years” deur Mike and the Mechanics.
Dit is ’n snerpkoue wintersoggend in die Noord-Kaap in Junie 1969. Die hond se drinkwater het gevries.
Die ysstalaktiete uit die kraan langs die skelrooi ranonkels in die voortuin is amper wreedmooi toe die man gereed maak om te gaan werk.
Hy sou die swaar stoomlokomotief laat rookpluime skets teen die koue oggendlug.
Laasnag het die kind tot laat gelees, met die flitslig onder die komberse.
Woorde is die ding wat haar betower. Die reuk van drukkersink op papier.
Die reuk van koffie en die gedempte grootmensstemme in die kombuis het haar wakker gemaak.
Sy druk haar voete in haar wolpantoffels, vou die winterjapon snoesig om haar lyf en stap kombuis toe.
“Pa, Pa moet lekker werk vandag. Hier is vir Pa ietsie lekkers vir die blik,” sê sy skamerig en sit die halwe pakkie vrugtegeur-Sugus langs die kosblik op die kombuistafel neer.
Dit raak doodstil in die kombuis.
“Jy hoef my net Pa te noem as jy wíl.”
“Ek wil,” sê die kind, en loer vlugtig na haar ma.
“Dankie, my kind,” sy woorde.
Hulle almal se harte was warm van geluk.
’n Week later het die pa vir sy leesgierige dogter ’n trommel vol dik storieboeke in die motorhuis gaan haal.
Baie jare later sou sy haar pa eerste bel toe sy gradueer, publiseer en ’n kleinseun na hom vernoem.
Hy was dit waardig. Soms wens sy dat sy dit nog net een keer weer vir hom kon sê.
So say it, say it clear (oh say it clear); You can listen as well as you can hear; It’s too late (it’s too late) when we die (it’s too late when we die). – Aniki Joseph




