“Invisible magpies warbled in the plane trees. Softly, gently, never running out of melodic ideas, they perched among the leaves and spun out their endless tales.” – Helen Garner, Joe Cinque’s Consolation: A True Story of Death, Grief and the Law
Ons het ’n doringboom op die sypaadjie – eintlik meer as een withaak. Dit is ’n geil gros bome, waar aardman jare gelede saadjies geplant het. Dit het ’n kolonie, gemeenskap, vesting, huis en haard vir tientalle tuinvoëls geword. ’n Spul mossies, en ander gevlerktes. Soos tiptol, janfrederik, lyster of duif se kind.
Sowat 14 neste, dalk meer, is oor jare in die takke gevleg. Wintertyd, voor sesuur, brom en vibreer hulle in hul beddens.
Nou dans die bome saam soos die lente in sang verwelkom word. Elke soort lewensdrama speel seker ook af, gemeet aan die kakofonie. Elkeen het mos sy dinge en geite.
Een ding weet ek: Hulle groet elke daeraad deurdrenk met lewensvreugde. Gister is lankal vergete. Die geluide weergalm deur die straat, die enigste blok waar die voëlsang só oorverdowend is. Die ander bome in ons straat is meestal uitheems. Vreemd en onverwelkomend vir onse mossiekinders.
Ons noem hul doringbome ’n woonstelkompleks. As jy vlerke het, kan jy in ’n woonstel bly.
Hoog in die takke adem mossiekind vars suurstof, wieg in die wind, proe die eerste lentereëndruppels, aanskou eerste sonsopkoms en -sak, en bemoedig die gekweste skarrelende mensesiele op straat.



