’n Herinnering uit 2017: Nellie Viljoen (regs, sekretaresse) van die Sirkel Kalahari steek vir Hettie du Plessis-Krüger die mediaskakelbeampte-balkie aan.

Foto: Verskaf

Die Vrouelandbouvereniging van Kaapland (VLVK) het Hettie du Plessis-Krüger van Kuruman as die nuwe webmeester en Facebook-bladkoördineerder van dié oorkoepelende liggaam aangestel.

Die liggaam bestaan uit 17 sirkels, met talle takke onder elkeen, soos wat die VLV Kuruman-tak deel van Sirkel Kalahari is.

Van 1 Maart af, vir die volgende drie jaar, sal Du Plessis-Krüger dié pos beklee. Sy is ook die mediaskakelbeampte van die VLV Kuruman-tak en Sirkel Kalahari.

Hettie du Plessis-Krüger, mediaskakelbeampte van die VLV Kuruman-tak en Sirkel Kalahari.

Estelle du Plessis, president van die VLVK, sê dat Du Plessis-Krüger se aanstelling tot die bemarking van die VLVK op sy webblad sal bydra, en dat sy die nuwe VLVK Facebook-blad in werking sal stel vir verdere blootstelling van die vereniging.

Dit is die eerste keer dat die VLVK ’n Facebook-koördineerder aanstel.

Du Plessis-Krüger het haar op 16 September 2015 by die VLV Kuruman-tak aangesluit, nadat sy reeds as joernalis die tak se byeenkomste bygewoon het. Die tak het haar gou as mediaskakelbeampte en bemarker verwelkom en op 8 Maart 2017 is sy in die dieselfde pos van die Sirkel Kalahari aangewys.

’n Herinnering uit 2017: Nellie Viljoen (regs, sekretaresse) van die Sirkel Kalahari steek vir Hettie du Plessis-Krüger die mediaskakelbeampte-balkie aan.

Sy woon op ‘n plaas buite Kuruman, en is in Kuruman gebore. Ná skool het sy modeontwerp in Stellenbosch studeer en ook deeltyds joernalistiek en kreatiewe skryfwerk. Daarna was sy tien jaar lank ’n joernalis, en sy het die afgelope 13 jaar ’n fotografie-onderneming. Sy is getroud, en het ‘n dogtertjie.

Haar kinderboek, Operasie Gebakte Pere, het in 2016 verskyn en is deur Anna Emm uitgegee. Dit was in dieselfde jaar een van dié uitgewery se topverkopers.

“Hettie, ons is meer as trots op jou,” sê Bessie Kriek, argivaris van die VLV Kuruman-tak.

“Hier uit die kleinste sirkel in die noorde van die Kaapland sien hulle jou raak.”

Sy sê Du Plessis-Krüger se talente en ywer beïndruk, en sy skitter soos ‘n ster hoog bo die Kalahari se hemelruim.

Besoek vlv.co.za en VLVK1929 op Facebook.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article