Die sokkerspan van die Kakamas Sundowns het op Saterdagaand 22 Maart die jaarlikse Wafa-Wafa-sokkertoernooi op die Dicky Jacobs-stadion in Upington voor nagenoeg 2 000 toeskouers gewen.
Met hierdie sege het die span gewys dat hulle die beste span in die streek is.
Dié jaarlikse toernooi het Vrydag afgeskop, en 16 spanne het oor twee dae hard meegeding.
In die eindstryd het Sundowns met Rosedale United van Upington afgereken en gemaklik met 3 – 0 gewen.

Leonardo Bradley-Cloete, King Slipp en Delon Pieters het die wenspan se doele aangeteken.
Met rustyd was geen doele nog aangeteken nie, maar die tekens was alreeds daar dat die besoekende span van Kakamas die oorhand begin kry het.
Sundowns se vaart en hul vernuftige samespel het Rosedale United onkant gevang.
Ná die eerste doel deur Bradley-Cloete het nog twee vinnige doele daarna gevolg wat die fut uit die tuisspan gehaal het.
Dit het gebeur nadat Rosedale United van sy puik verdedigingslinie vervang het.
Die Sundowns het met venynige aanvalle sy teenstanders onder geweldige druk geplaas.
In die tweede helfte was daar net een span op die veld wat die wedstryd vanuit alle hoeke oorheers het en dit was die 11-tal van Sundowns, met hul vurige ondersteuners se gejuig en joligheid.






You must be logged in to post a comment.