Inwoners van Kakamas voor die Kai !Garib-munisipaliteit oor die dorp se voortslepende waterkrisis.

Foto: Marie Nel Credit: SYSTEM

“Só kan dit nie aangaan nie, ons is moeg vir dors wees!”

Dit was Vrydag 23 Februarie die boodskap van etlike inwoners van Kakamas wat ’n optog deur dié dorp gehou en die burgemeester van die Kai !Garib-munisipaliteit voor stok gekry het omdat hul krane reeds sedert September kurkdroog is.

Sheila Mathys, ’n werkende ma en inwoner van die Fase 4-woonbuurt in Kakamas, het voor gevat en Anelma Steenekamp, nog ’n inwoner, het ’n griefskrif aan Marshall Matthys, die burgemeester, oorhandig.

Sy sê in die griefskrif dat die gemeenskap al verskeie kere­ die raadslid in wyk 4, die munisipale bestuurder, Obakeng Isaacs, en die inbelsentrum van die munisipaliteit gesmeek het om aan die kwessie aandag te gee – maar vergeefs.

Leonard McKay, ’n gemeenskaps­aktivis en inwoner, het dit duidelik aan die munisipaliteit gestel dat die gemeenskap nie sal ophou kla nie.

Kakamas

Een van die plakkate wat inwoners van Kakamas se frustrasie met watertoevoer verwoord.

Die DA het saam met die gemeenskap opgeruk.

“Water word lukraak aan- en afgeskakel. Sommige mense het geen water in hul krane nie. Dit word vererger deur die hitte,” sê Reinette Liebenberg, DA-kiesafdelingshoof in die Benede-Oranjerivierstreek.

Sy sê die watertekorte in die Kai !Garib-munisipale gebied is niks nuuts nie.

“Aan die begin van 2023, toe watertekorte ook verwoesting gesaai het, het die munisipaliteit gesê dat hy van beurtkrag vrygestel gaan word en dat ’n aansoek by Eskom ingedien is. Tot op hede het dit nie realiseer nie.”

“Die oorsaak van die watertekorte tans is nog nie eens vasgestel nie.

“Intussen is kontrakte aangegaan vir die verspreiding van water via tenkwaens. Die waterkrisis hier is een van baie in die Noord-Kaap, met soortgelyke situasies in talle munisipaliteite,” sê Liebenberg.

Sy sê dit is hoogtyd dat inwoners van Kakamas en die Noord-Kaap gered word van die waterkrisisse wat deur munisipaliteite geskep word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article