Fanny Fouché beduie op haar 98ste verjaardag waar die nuwe kabouters in haar kabouterdorpie moet staan.

Foto: Verskaf

Vir haar 98ste verjaardag op 23 Desember het Fanny Fouché van Kimberley vyf nuwe kabouters vir haar “kabouterdorpie” gekry.

Dié dorpie is Fouché se groot passie en verskaf kleur aan elke dag. Elke kabouter het ’n naam, en sy vertel graag allerhande stories oor hulle.

Fouché, wat baie daarvan hou om ure op ’n bankie in die tuin deur te bring – wat sy haar “office” noem – is ook baie lief vir diere en is gaande daaroor om veral vir Brakkenjan te bederf.

Sy is in 1924 in Kuruman gebore en het op ’n plaas in die distrik grootgeword. Later het sy in Seodin skoolgegaan en daarna op ’n plaas naby Severn gewoon.

In 1947 is sy met Roelf Fouché getroud. Die egpaar het in 1977 na Kimberley verhuis.

Kort nadat Roelf in 1985 oorlede is, het Fouché in ’n woonstel op haar dogter Isabel Venter se erf in Royldene ingetrek. Haar ander oorlewende kinders is Lona Krause, van Milnerton, Wes-Kaap, en haar seun, Chris, wat in Griekwastad woon. Sy het tien kleinkinders en vier agterkleinkinders.

Verwerk, Helena Barnard

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article