Kabeldiefstal in die woonbuurt Cassandra, deel van Kimberley, is glo so erg dat wanneer ’n nuwe kabel deur die dag vervang word, dit dieselfde aand weer gesteel word.
Weens die voortdurende kabeldiefstal beleef inwoners in die buurt gereeld kragonderbrekings, wat beurtkrag uitsluit.
Frans Reichert, ’n VF Plus-raadslid, sê die kabels word veral tydens beurtkrag gesteel.
Inwoners het die party genader om ondersoek in te stel oor waarom die situasie ongehinderd voortduur.
Die party het met sy ondersoek by die Sol Plaatje-munisipaliteit begin. Aspekte waaroor vrae gevra word, is onder meer die gebrek aan ’n sekuriteitsafdeling; oor waarom kabels nie eerder oorhoofs gespan word as in die grond gelê word nie; waarom polisiepatrollies nie plaasvind nie; en of die kabeldiefstalle deur die munisipaliteit by die polisie aangemeld word.
Die koste om een so ’n kabel te herstel, beloop gemiddeld R50 000, wat van die belastingbetaler verhaal word.
Die VF Plus doen ’n beroep op die gemeenskap om kabeldiefstal by die polisie aan te meld en die saaknommer direk aan die party se raadslede te stuur om die sake op te volg.
Reichert sê van die raadslede is ook by die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) betrokke, en beoog om te verseker dat patrollies wel in Cassandra plaasvind.





