’n Vroeëkinderontwikkelingsentrum vir plaaskinders is einde Januarie bekend gestel.
Dit is die derde soortgelyke sentrum deur die landboumaatskappy GWK, in samewerking met boerderye. Klouter-Bouters, by die De Meul-boerdery, is sowat 20 km vanaf Prieska.
Klouter-Bouters, op die plaas Remhoogte, is pasgemaak vir die klimaat, met ’n omgewingsvriendelike gebou waarin sonkrag en natuurlike lig gebruik word.
Tans sal 14 plaaskinders, vanaf twee tot vyf jaar oud, deur ’n opgeleide opvoedkundige en assistent stimuleer word om op ’n holistiese manier te ontwikkel.
Die kinders sal ook elke dag gebalanseerde etes ontvang.
In die namiddag sal kinders van die nabygeleë Laerskool Bloukrans by die sentrum vir nasorg aanmeld waar hulle ondersteuning met huiswerk sal ontvang, en later blootstelling aan gespesialiseerde ontwikkelingsprogramme soos die behoefte ontstaan.
Marelize de Villiers van De Meul-boerdery, wat namens die De Villiers-familie die projek gelei het, sê die opening van die sentrum is ’n jarelange droom wat bewaarheid is. Dit is gedryf met die ondersteuning van die familie en haar passie vir kinders en opvoeding.
Die plan om soortgelyke sentrums te vestig het in 2020 lewe gekry toe die eerste sentrum deur GWK en Genade-boerdery buite Douglas gevestig is, met die doelwit om vanaf grondslagfase ’n deurslaggewende verskil in die opvoeding van kinders op plase in die Noord-Kaap te maak.





