’n 13-jarige leerling aan die Laerskool Newton in Kimberley, Zimri de Wet, het onlangs twee nasionale skoonheidstitels verwerf.

Zimri, wat gaande oor modelwerk is, is as Miss Supreme Fire SA aangewys, asook as die wenner van die kompetisie Toddler and Tween of the World: Suid-Afrika en Namibië. Die byeenkomste het onderskeidelik in September en Oktober in Klerksdorp plaasgevind.

In die Miss Supreme-kompetisie het Zimri in haar ouderdomsgroep gewen, en is sy ook die algehele wenner in al die groepe (13 tot 19 jaar).

In die Miss Toddler and Tween-kompetisie was sy ook die wenner in haar ouderdomsgroep, en ook die algehele wenner van al die groepe (11 tot 17 jaar).

Zimri neem sedert sy drie jaar oud was aan modelkompetisies deel.

“Om ’n model te wees is my passie. Ek leer soveel wat ek met ander wil deel. Dit is waarom ek dié jaar my eie veldtog, Reach for the Stars, begin het,” vertel sy.

Sy sê al bly ’n mens ver van groot stede af, met minder geleenthede op die platteland, moet ’n mens elke geleentheid aangryp en self geleenthede skep.

“Modelwerk gee vir my ’n platform om in die gemeenskap betrokke te wees. Ek het al verskeie projekte aangepak, soos ’n Christmas in July-partytjie by die Bophelo-kindersorgsentrum, waarvoor ek self borge gekry het,” vertel sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article