Frik van Heerden

Foto: Ruhan Breedt

’n Oudleering aan die Hoërskool Kalahari in Kuruman wat as jong sakeman reeds internasionaal aandag trek, is vanjaar een van die tien topfinaliste in die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie.

Die 27-jarige Frik van Heerden wat op ’n plaas in die Reivilo-omgewing grootgeword het en waar sy ouers steeds op die familiegrond boer, vertel dat hy nog altyd ’n passie vir diverse uitdagings gehad het.

Frik van Heerden

Hy het juis vir die kompetisie ingeskryf omdat hy glo dit is ’n uitstekende platform om ’n verskil te maak in die ontwikkeling en motivering van jong en geesdriftige entrepreneurs.

Van Heerden het in 2019 in Kuruman as ’n entrepreneur in ’n klein kantoortjie met slegs een personeellid sy eerste onderneming begin.

“Baie jong mense wil graag hul eie ding op die been kry, maar die nodige ondersteuningsnetwerk is nie altyd vir hulle beskikbaar nie.”
Frik van Heerden

Van Heerden se aanvanklike enterpreneursaak het so gegroei en uitgebrei dat hy reeds internasionale erkenning ontvang het vir sy merkwaardige bydra om die landskap van tradisionele besigheid te verander en te diversifiseer.

Van Heerden het ná skool regte aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom begin studeer. As iemand wat vroeg reeds sy passie vir besigheid en entrepreneurskap besef het, het hy besluit om sy studies te staak en voltyds in die entrepreneurskapslyn sy tyd te verwyl.

Hy het daarna RFG in 2019 in Kuruman begin. Die hooffokus was toe aanvangsbegrafnisversekering.

Sedertdien het RFG Capital in ’n diverse en groot instelling met verskeie divisies ontwikkel. RFG Funerals fokus op begrafnisversekering en het begrafnisondernemings oor die land heen. RFG Wealth hanteer korttermyn- en langtermynversekering, siekefondse en beleggings, terwyl RFG Accounting ’n span rekenmeesters het. Ook deel van die divisies is RFG Legal and Compliance, RFG Productions, RFG Telecoms, RFG Tracking en RFG Rewards.

Met dit alles saam studeer Van Heerden deeltyds in tegniese finansiële rekeningkunde (Technical Financial Accounting).

Frik van Heerden, ’n oud-leerling aan die Hoërskool Kalahari in Kuruman en Mnr. SA-finalis.

Op 11 November sal hy as finalis tyd inruim wanneer die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie se eindronde by die Vodacom Dome in Midrand, Johannesburg, plaasvind.

Persone wat vir Van Heerden in die kompetisie wil stem, kan die mrsa.co.za/product-page/mr-sa-2023-frik-van-heerden skakel gebruik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article