Om deel van die Suid-Afrikaanse o.15-krieketstreekspan te wees wat onlangs in Indië aan ’n uitnodigingstoernooi deelgeneem het, was vir Nathan Baird van Kimberley ’n leerskool in meer as een opsig.

Nathan, ’n gr. 10-leerling aan die Hoërskool Diamantveld, is die enigste o.15-krieketspeler vanuit Kimberley wat vir die span gekies is, en is boonop as die spankaptein aangewys.

Die nasionale o.15- en o.17-spanne is einde verlede jaar tydens ’n toernooi in Sasolburg gekies. Die twee spanne was vir ongeveer 12 dae weg van die huis en het vriendskaplike wedstryde teen klubs in Indië gespeel.

“As kaptein het ek baie geleer, soos dat elke wedstryd en sy aspekte anders is.

“’n Mens moet na detail kyk van hoe jou spanlede speel, en ook leer om te sien wat agter die wedstryd aangaan,” vertel hy.

Die verskil in krieketkultuur en -omgewings tussen die twee lande was vir Nathan opvallend.

“Ons speel kort en meer aanvallende wedstryde, terwyl Indië met geduld veel langer wedstryde speel.

“Krieket is 90% ’n mind-game, en wanneer jy as kaptein sien iemand in jou span se kop hang, probeer jy dit lig deur motivering,” vertel Nathan wat reeds sedert gr.. 1 by die Laerskool Newton mini-krieket speel.

Nathan is ook in die Northern Cape Young Heat-span ingesluit.

Young Heat is ’n program saamgestel deur Noord-Kaap Krieket wat daarop gemik is om onder meer jong talentvolle krieketspelers van die provinsie verder af te rig en hul vaardighede te ontwikkel.

Behalwe Nathan, is Faizan Kajee, Gift Seane, Malan Lubbe, Nombuso Makatong, Ontlametse Kesiamang, Rethabile Mothlanke, Simon Liversage en Aiden Dodd vroeër in Mei tot die span verwelkom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article