John Block-verhoor: Staat benodig maande om deur ‘trokvrag dokumente’ te werk

Tshegolekae Motaung

Foto: Charné Kemp

Die staat sê hy het ’n massa dokumente wat gekopieer moet word in die jongste bedrogsaak teen John Block en twee ander wat van onder meer van korrupsie en geldwassery aangekla word.

Block, ’n voormalige LUR en Noord-Kaapse ANC-leier, het Dinsdag (11/07) virtueel sy tweede verskyning in die hof in Kimberley gemaak waarin die beskuldigdes verdink word van knoeiery met die oprigting van die omstrede psigiatriese hospitaal buite Kimberley.

Sy medebeskuldigdes in die jongste strafsaak is Patience Mokhali (65), voormalige provinsiale departements­hoof van die departement van openbare werke en paaie, waarvan Block destyds die LUR was, en Tshegolekae Motaung (59) en sy maatskappy, Babareki Consulting Engineers.

John Block

Patience Mokhali

Mokhali word ook van oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aangekla. Die bewering is dat die kontrak vir die hospitaal op bedrieglike wyse aan Babareki Consulting Engineers as strukturele en siviele ingenieur toegeken is, en om die projekbestuur by die hospitaal te doen.

Block en Mokhali het die kontrak van R51 miljoen toegeken al het die maatskappy nie aan die vereistes voldoen nie.

Met die bou van die hospitaal in 2003 is beloof die gebouekompleks sou binne twee jaar teen R230 miljoen voltooi word. Ná 15 jaar en verskeie vertragings waarin gedeeltes afgebreek en oorgebou is, is dit uiteindelik ná R2 miljard geopen.

Net sekere gedeeltes word weens ’n personeeltekort gebruik.

Adv. Lentswe Setoutou, aanklaer, sê daar is dokumente met 106 274 bladsye in die dossier, met 930 bladsye wat nog sorteer moet word.

Daarbenewens is daar 15 000 bouplanne van verskillende groottes wat slegs deur ’n spesialis gekopieer kan word.

Diensverskaffers moet aangestel word om die dokumente vir al die partye te kopieer en te pagineer.

“Dit is ’n trok vol dokumente,” het hy aan hooflanddros Oswald Krieling gesê. Die staat benodig nog etlike maande om die dossier gereed te kry, en wag nog op dokumente van die nasionale gesondheidsdepartement.

Boonop het Block wat ’n vonnis van 15 jaar vir korrupsie uitdien vir buitensporige kantoorhuurkontrakte vir staatsdepartemente, ’n aansoek om borgtog gebring, wat die begin van die verhoor in die hooggeregshof raak. Setoutou sê hoewel hy dink Block se aansoek is vanweë sy aanhouding ’n akademiese uitoefening, “mag hy sy regte uitoefen”.

Herholdt Robertson, namens Mokhali en Motaung en sy maatskappy, het aangevoer sy kliënte versoek ’n spoedige verhoor. Die Valke het reeds in 2013 die saak begin ondersoek en steeds is die saak nie afgehandel of dokumente kopieer nie.

John Block

Tshegolekae Motaung

Consulting Engineers SA (Cesa), ’n bedryforganisasie vir konsulterende professionele ingenieurs, het Motaung reeds laat weet hulle oorweeg om hom van die registrasielys te verwyder weens die aanklagte teen hom.

Hy versoek dringend verdere besonderhede, die finale akte van beskuldiging, die dossier en dat die verhoor ’n aanvang neem.

Die beskuldigdes het vroeër die aansoek van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) teengestaan om die hofsitting vir televisie-uitsending op te neem. Volgens Block veroorsaak dit spanning vir sy familie en is dit nie in openbare belang nie. Motaung het aangevoer sy gesig was in die media “gegooi” en dat die aanklagte teen hom tenderaansoeke by staatsdepartemente benadeel.

Block se borgtogaansoek word op 1 Augustus aangehoor. Sy medebeskuldigdes moet weer op 10 Augustus saam met hom verskyn.

Kimberley- psigiatriese hospitaal

Luidens vroeë koerantberigte sou die Kimberley- psigiatriese hospitaal aanvanklik teen R70 miljoen gebou en binne ’n jaar voltooi word. Dit is uiteindelik ná 15 jaar voltooi.

Luidens berigte het die maatskappy tydens die toekenning van die kontrak en bouwerk nie ’n geregistreerde ingenieur in diens gehad nie, soos vereis word deur die Wet op Beroepsingenieurs.

Motaung was voorheen ’n hoofdirekteur by die departement van paaie en openbare werke. Nadat sy kontrak beëindig is, het hy luidens berigte ’n uitbetaling van R5,5 miljoen ná ’n arbitrasieproses ontvang. ’n Maand daarna is hy as direkteur by Babereki Consulting Engineers aangestel en is die kontrak toegeken. 

Die bouterrein is later aan drie kontrakteurs oorhandig voordat die hospitaal uiteindelik in 2019 geopen is. Verskeie geboue is gedurende die bouwerk gesloop en oorgebou. Daar is ook berig dat bouplanne vir die 33 geboue 250 keer verander is.

In ’n latere forensiese verslag is bevind dat die departemente van paaie en openbare werke en van gesondheid betalings aan die kontrakteurs gedoen het en geen boetes uitgereik is weens swak werk en spertye wat oorskry is nie.

Strafregtelike stappe teen voormalige departementshoofde, kontrakteurs en projekbestuurders is aanbeveel. Hoewel daar ’n vermoede was van onbehoorlike politieke invloed, kon die ondersoekers geen bewyse daarvan vind nie.

Babereki Consulting Engineers was in 2007 ook betrokke by die oprigting van die Noord-Kaapse wetgewergebou.

Dié gebouekompleks is in 2016 onveilig verklaar en verdere bouwerk van R35 miljoen is gedoen om strukturele probleme reg te stel.

In die begrotingsdebat in die wetgewer het Grantham Steenkamp, DA-LP, gesê die speaker het lede vroeër vanjaar ingelig dat die wetgewergebou binne die volgende 20 jaar gaan ineenstort

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article