NoordkaapBulletin se redakteur, Helena Barnard, het geseëvier in die afdeling vir digitale verslaggewing op die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste (FCJ) se jaarlikse AVBOB FCJ-toekenningsgeleentheid, wat Vrydag (04/08) in die Cape Sun-hotel in Kaapstad aangebied is.
Die jaarlikse toekenning van eerbewyse gee erkenning aan gemeenskapsjoernaliste van plaaslike koerante oor die land heen.
Marietta Lombard, uitvoerende direkteur van die FCJ, sê die aantal inskrywings vir die kompetisie was vanjaar byna dubbeld soveel soos vir verlede jaar.
Altesaam 527 inskrywings is ontvang, en redaksielede van Sentraal24, wat bestaan uit die plaaslike koerante Vista, Bloemnuus,NoordkaapBulletin, Expressen VrystaatKroon, is in talle afdelings as finaliste aangewys.
Barnard sê sy het glad nie verwag om in die digitale afdeling te wen nie.
“Ek het nog op universiteit joernalistieke eksamens met ’n tikmasjien geskryf en weet hoe tippex en ’n filmkamera werk,” sê sy oor die eerbewys.
“Wat dalk tot die sukses bydra, is dat ek berigte ingeskryf het met temas wat my na aan die hart lê.
“Voldoende redaksionele ruimte in plaaslike koerante is ’n voortdurende uitdaging. Hier bied digitale joernalistiek juis daardie ruimte vir die beskrywing van ’n belewenis, aanhalings, ’n bietjie navorsing, wenke vir lesers en heelwat foto’s.”
Wat die kompetisie betref, sê Barnard dit is verblydend dat ’n onderneming soos AVBOB hom so met die geskrewe woord bemoei en die waarde van plaaslike koerante besef.
“Hulle wakker die leeskultuur aan en bied selfs gedigtekompetisies aan.”
Benewens haar bekroning in die digitale afdeling, het Barnard ’n gesamentlike derde plek in die afdeling vir joernalis van die jaar behaal. Sy is ook aangewys as finalis in die afdelings vir redaksionele kommentaar, menslikheidstories en nuusfotografie.
NoordkaapBulletin se medewerker, Charné Kemp, is as joernalis van die jaar, asook fotograaf van die jaar, en in die afdelings vir nuusfotografie, menslikheidstories en ondersoekende joernalistiek as finalis benoem.
Teboho Setena, redakteur van Express, is in die afdelings vir sportfotografie en nuusfotografie as finalis benoem.
Marti Will, redakteur van Vista, is in die sport-afdeling as finalis benoem.
Twee van Sentraal24 se subredakteurs, Inge Strydom en Shirwan Newton, is in die afdeling vir die skryf van opskrifte as finaliste benoem.
’n Korrespondent, die rubriekskrywer vir Bloemnnuus Erica Pretorius, is in die afdeling vir rubrieke benoem.
Karen Herbert, groepredakteur vir Sentraal24, sê Barnard se eerste plek, derde plek en benoemings in soveel ander afdelings is die vrugte wat sy pluk vir volgehoue harde werk. Sentraal24 is trots op elke ander benoeming en bewys weer die Vrystaat en Noord-Kaap hoef vir niemand terug te staan nie.




