Waag jou hand en tand aan dié pistachio-gemarineerde gemsboksteak en -wors, resepte van die kos-ghoeroe van die De Oude Kraal-landgoed, Marie Lombard.
Vir die gemsboksteak, maak marinade van:
- 500 ml room
- 500 ml olie
- 2 teelepels knoffel
- 25 ml Worcestershiresous
- 25 ml tamatiesous
- 25 ml braaispeserye
- 10 ml soja
- 5 ml swartpeper
- 5 ml roosmaryn
Marineer die steak vir drie dae hierin in die yskas. Daarna, haal die steak uit die marinade en rol dit in ’n pistachio-krummel van:
- 500 g fyn pistachio
- 20 ml sout
- 100 ml gedroogde pietersielie
- 10 ml gedroogde uiepoeier
- 2 ml witpeper
Braai die steak in botter tot gaar.
Vir die gemsbokwors, meng die volgende:
- 15 kg gemsblokblokkies sonder senings
- 4 kg beesvleis
- 5 kg varkvleis
- 4 kg spek
- 400 ml koljander, gerooster en gemaal
- 145 ml sout
- 45 ml swartpeper
- 35 ml naeltjies
- 25 ml neutmuskaat
- 650 ml bruin asyn
- 300 ml hawermout
- 2,5 salpeter
- 300 g songedroogte tamaties
Maal al die bestanddele grof en stop die wors.
De Oude Kraal se gewilde WildsKOSfees buite Bloemfontein vind op 10 Junie plaas – waartydens wildskosgeregte, en ook hoender, bees, vark en lam berei word. Altesaam 22 wynplase gaan verteenwoordig word. Skakel De Oude Kraal by 051-560-0733.



