Dié murgbeen-en-wildspotjie met perskes is ideaal met springbok, koedoe of rooibok.
Benodigdhede:
1 kg wildsvleisblad of -boud
750 ml droë rooiwyn
1 kaneelstokkie
¼ teelepel fyn gemmer
sout en swartpeper
500 g skaapmurgbene
2 eetlepels botter of vet
250 g gerookte spek, grofgekap
1 ui, gekap
2 takkies roosmaryn
1 koppie droëperskes
2 eetlepels bruinsuiker
2 liter skaapaftreksel
Metode:
Sny die vleis in stukke en plaas dit saam met die wyn, kaneel en gemmer in ’n glasbak. Bedek en marineer oornag in yskas.
Voorverhit die oond tot 160 °C. Verwyder vleis uit marinade en klad droog. Hou die marinade eenkant.
Geur die vleis met sout en peper. Verhit ’n wye platboompot op die stoof, smelt van die botter daarin en verbruin die vleis en murgbene vinnig oor hoë hitte – moenie dat dit stoom nie.
Verlaag die hitte, voeg die helfte van die spek met die ui en roosmaryn by, en roerbraai vir vyf minute.
Voeg die perskes, suiker, marinade en aftreksel by.
Bak vir twee uur met die deksel op. Haal die deksel af en bak vir nog ’n uur.
Braai die res van die spek bros en sprinkel oor voor bediening.



