Eugene Jacobs het Maandag (01/08) as nuwe uitvoerende hoof by Oostelike Provinsie Krieket in Gqeberha ingeval.
Jacobs (62) het ná die afgelope krieketseisoen as uitvoerende hoof van Noord-Kaap Krieket bedank, waar hy vir bykans ’n leeftyd in verskeie hoedanighede betrokke was.
In die 1970’s was hy ’n belowende rugby- en krieketspeler by die Perseverance College. As wegbreekbouler en middelkolwer het Jacobs vir die kollege en die Diamond Park-krieketklub gespeel. Sy groot oomblik van roem was toe hy van 1978 tot 1980 as jong speler losskakel gespeel het in die kollege-span saam met Peter de Villiers.
Hy was sedert 2013 aan die stuur by Griekwas, wat later Noord-Kaap geword het. Hy was een van die bekendste sportadministrateurs in dié provinsie.
Sy bedanking was onder meer weens politiekery en voortdurende raadsaal-chaos van die laaste paar jaar. Jacobs het met sy vertrek gesê hy het vir ’n paar poste aansoek gedoen.
Noord-Kaap was die afgelope seisoen die eerste meerdagkampioen van Krieket Suid-Afrika se nuwe Afdeling 2-kompetisie.
Noord-Kaap moet nog sy opvolger aanwys. Thapelo January het tot nou in die pos waargeneem.



