’n Inwoner van die Minerva Gardens-aftreeoord in Kimberley het verlede week haar 100ste verjaardag gevier.
Annetjie (Annie-Marie) Olivier, ’n nooi Scheepers van Rouxville in die Vrystaat, het dié heuglike dag op Vrydag 8 Desember saam met talle ander inwoners van die aftreeoord en familielede gevier.
“My ouma het een ma en een pa gehad, en een man,” het een van haar kleindogters, Madeleen Milner, tydens die geleentheid gesê.
Milner het ’n kort opsomming gegee van groot wêreldgebeure wat die afgelope 100 jaar plaasgevind het, en wat gespreksonderwepe was waarmee haar ouma groot en oud geword het.
Dit sluit die Tweede Wêreldoorlog, die eerste maanlanding, die eerste hartoorplanting, die Koue Oorlog, Charlie Chaplin se eerste rolprent met klank en die eerste driekleurverkeerslig in.
Boonop is haar ouma in dieselfde jaar gebore as wat die Walt Disney-maatskappy tot stand gekom het.
Olivier het haar man, Danie Olivier, in Pretoria ontmoet.
In daardie tydperk was hy in die weermag, en Olivier het by ’n droogskoonmakeronderneming gewerk waar sy onder meer “invisible mending” gedoen het.
Haar dogter, Elsabé Mong van Kimberley, beskryf haar ma as ’n “presiese vrou”, en hoe perfek en netjies sy die herstelwerk kon doen.
Olivier word ook as ’n meesterkok en bobaasbakker beskryf, en ’n fynproewer van formaat.
Mong vertel dat haar ma melktert kon bak wat niemand kan nadoen nie.
Ná hul troue het die Olivier-egpaar in onder meer Marble Hall en Pongola gewoon voordat hulle na Jan Kempdorp verhuis het.
Haar man was vir jare ’n voorligtingsbeampte by ’n departement.
In Jan Kempdorp het Olivier by onder meer die Vroue-Landbouvereniging (VLV) betrokke geraak waar sy haar vlytighede verder kon uitbrei en beoefen.
Die egpaar het drie kinders gehad: een dogter en twee seuns. Danie woon in Bloemfontein, en Pieter wat in Oudtshoorn gewoon het, is ongeveer vier jaar terug oorlede.
Olivier het tien kleinkinders, 20 agterkleinkinders en een agteragterkleinkind.
“My ma se Godsdiens was nog altyd vir haar belangrik,” vertel Mong.
“Sy het altyd vir ons gebid en ons geleer om aan die Here vas te hou.”
Sy onthou ook dat haar ouers altyd gegee het; en dat hul hande vir ander oop was.
“My ma het ook nooit met leë hande by iemand aangekom nie,” onthou Mong.
Olivier het tot onlangs nog in haar eie woonstel in die aftreeoord gebly waar sy haar eie huishouding hanteer het.
Sy het in September na die versorgingsafdeling geskuif.





