Van die bedreigde plante wat deur die polisie in Kamieskroon onderskep is.

Foto: Verskaf

Drie verdagtes is in hegtenis geneem en bedreigde plante ter waarde van ongeveer R500 000 is deur lede van die polisie in Kamieskroon in die Noord-Kaap onderskep.

Dit het gebeur nadat polisielede inligting oor ’n Hyundai-vragmotor wat vanaf Leliefontein in die Namakwa-streek in die rigting van Kamieskroon gery het, opgevolg het, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder.

Sy sê op Maandag 24 Februarie, omstreeks 16:30, is die voertuig onderskep en deursoek nadat toestemming van die bestuurder verkry is.

Sowat 30 sakke met 1 309 beweerde bedreigde plante is in die vragmotor gevind, en beslag is ook op dié voertuig gelê.

Die drie verdagtes, wie onderskeidelik 31, 32 en 39 jaar oud is, is almal van die Wes-Kaap. Hulle sal eersdaags in die hof verskyn op aanklag van die onwettige besit van bedreigde plante.

Die Namakwa-distrikskommissaris, brig. Schalk Andrews, het die polisielede vir hul vinnige reaksie geloof.

“Die polisie in die Namakwa-distrik sal voortgaan om die stropery van bedreigde plantspesies in die streek hok te slaan,” sê hy. Lede van die publiek, wie waardevolle inligting verskaf het, word ook bedank.

Inligting oor misdadige gebeure of verdagte optredes kan aan die polisie deurgegee word via die MySAPS-app of 08600-10111.

Beslag is gelê op die voertuig wat gebruik is om die plante te vervoer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article