Die Noord-Kaapse polisie sê hy is nog besig met die ondersoek na die voorval in Mei vanjaar by die Hoërskool Danielskuil waar twee skeidsregters aangerand is na afloop van ‘n skolerugbywedstryd, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Dit volg op die afhandeling van die Griekwaland-Wes-rugbyunie se tugverhore waarin een van die beskuldigdes verlede Donderdagaand deur die Griekwaland-Wes-rugbyunie lewenslank uit alle rugby-aktiwiteite geskors is.
Tyrese Doman, die hulprugbyafrigter van die o.15-rugbyspan en ‘n onderwyser by die Hoërskool Danielskuil het ontken dat hy Christo Kemp en Fires van Vuuren, die skeidsregters geskop het. Die ander man, ‘n toeskouer, is skuldig bevind aan verbale aanranding. Sy straf is dat hy vir twee jaar uit alle rugby-aktiwiteite geskors is. Dit is vir twee jaar opgeskort.
Op die video van die voorval wat wyd op sosiale media versprei is, word gesien hoe Kemp en Van Vuuren ná die eindfluitjie tussen die wedstryd van die Hoërskool Danielskuil en Kathu deurloop. Leerlinge en ouers van die Hoërskool Daniëlskuil skop en slaan na die twee mans.
Volgens ingeligtes laat die afhandeling van die rugbyunie se verhore die weg oop vir siviele eise teen die betrokkenes. Die departement van onderwys sit sy interne verhore vandeesweek voort. Die polisie se ondersoek kan tot strafregtelike aanklagtes lei.
Die Griekwaland-Wes-rugbyunie het in die vroeëre verhore die twee ouers wat toeskouers was by die wedstryd is verlede week lewenslank uit rugby geskors. Hulle het skuld beken op die aanklagte van aanranding en gedrag wat rugby in oneer gebring het. Nog ‘n 0.15-rugbyspeler is op dieselfde geleentheid skuldig bevind en vir 24 wedstryde geskors, waarvan agt wedstryde opgeskort is. Die ander seun (ook 15) is reeds in die middel van Junie vir 24 wedstryde geskors nadat hy skuld beken het in ‘n virtuele tugverhoor. Die seuns is leerlinge by die skool.
Die o.15-rugbyafrigter van die Hoërskool Daniëlskuil is onskuldig bevind op ‘n aanklag van verbale aanranding. Hy is ook ‘n onderwyser aan die skool.
Kat Swanepoel, voorsitter van die Griekwaland-Wes-rugby skeidsregtersvereniging, sê die uitkoms van die tugverhore stuur die regte boodskap dat wangedrag nie geduld sal word nie.
“Ons kan nie duld dat skeidsregters en ander amptenare bedreig voel nie. Wangedrag kan tot ernstige beserings lei, wat ons so ver moontlik wil vermy. Sportgeleenthede is nie die plek vir boendoe-geweld nie.”
Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê hulle sal na die afhandeling van die ondersoek die dossier aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oorhandig om ‘n besluit te neem oor die vervolging van verdagtes in die beweerde aanrandingsvoorval.
Kemp se regsverteenwoordiger wat nie sy naam wil laat publiseer nie, sê Kemp voel nie veilig genoeg om na die winterskoolvakansie as onderwyser na skool terug te keer nie.
“Hy het dreigemente ontvang en wil dit nie eers in die dorp waag nie.”
Hulle is ook nie tevrede met die polisie se ondersoek wat “nie eintlik vordering toon nie.”
Kemp voel blootgestel omdat hy in die koshuis woon, die skoolbus bestuur en sy klaskamer ver van die kantoor geleë is.
“Hy wil dit nie eers in die dorp waag ná ‘n doodsdreigement nie.”
Dié onderwyser is sedert die voorval op spesiale verlof weens sy beserings en trauma.
Sydney Stander, departementele woordvoerder, sê die skool het reeds met die tugverhoor van twee leerlinge begin. Die verhore, asook die van twee volwassenes, word Woensdag (13 Julie) voorgesit.
“Die sanksies sal ook dan bekend gemaak word. Die uitslag van die tugverhore sal na die Griekwaland-Wes-rugbyunie gestuur word,” sê Stander.
“Die skoolbestuurder is gedurig in kontak met mnr. Kemp om na sy welstand te verneem.”
Jan-George van Straten, SBL-voorsitter, sê hulle is in gesprek met Kemp oor sy veiligheid.
“Ons kan spesiale reëlings tref of maatreëls in plek stel om sy veiligheid te verseker,” sê hy.




