’n Klein pleidooi op die sosiale media het na ’n algehele ommekeer vir ’n verwaarloosde begraafplaas in Hartswater gelei.
Willie van der Ryst (55), ’n boer van die distrik, en sy span werk sedert Maandag verlede week en daar word geskoffel, gesloop, ingesinkte grafte hervul en paadjies netjies gemaak.
Dit volg op die reünie van die Hoërskool Hartswater die vorige naweek, wat die Bloemfonteiner Michael Hetzel (53) bygewoon het. Hetzel het met sy besoek ook ’n draai by die begraafplaas gemaak omdat dit hom na aan die hart lê. Sy ouerhuis was reg oorkant geleë.
Dit was veral die toestand van Ben en San Venter, wat omstreeks 1996 oorlede is, se grafte wat hom diep ontstel het. Dit was vol vullis en ingesink weens die oorstromings vroeër.
Dié fotograaf-egpaar het destyds die Venter-ateljee in die dorp besit en Hetzel en sy vrou, Elrita, se troudag 31 jaar gelede afgeneem.
Hy het sy misnoeë en foto’s van die grafte op sosiale media gedeel. Die volgende oomblik het hulp uit alle oorde gestroom van mense wat geliefdes hier het, maar ver woon.
Van der Ryst het sy trekker met laaigraaf (TLB) ingespan en die gras is gesny en die grafte opgevul.
Hetzel het ’n Facebook-blad geskep vir die begraafplaas sodat mense die verbeterings aan hul naastes se grafte kan sien.
Baie woon deesdae oorsee, maar daar is diegene wat steeds in die dorp woon wat glo te bang is om die begraafplaas te besoek omdat rowers al voorheen daar rondgedwaal het.
“Dit is hartseer dat so baie van die grafte wat lelik is, ingeval het, gebars het, mense is wie se familie nog in Hartswater is. Dit het net te maklik geword om te sê ons kan nie gaan nie, dis onveilig.”
Bonita Osbourne, wat in Kanada woon, het Hetzel en Van der Ryst bedank omdat haar skoonouers se grafte hier is. Van der Ryst se pa, Martin, is ook hier begrawe.
Van der Ryst het onlangs ’n hartaanval gehad en wou iets vir welwillendheid doen om sy dankbaarheid vir sy gesondheid te betoon.


