“Dit voel soos ’n mikrovakansie om tyd saam met jou deur te bring,” skerts ek toe ek groet.

Daar is mense wat die gawe het om jou beter te laat voel wanneer jy ’n tydjie by hulle vertoef.

Hulle gesels oor interessante dinge en hul positiewe uitkyk gee, sonder dat hulle dit altyd besef, ’n sprankie hoop.

Ander mense dreineer jou dat dit voel asof jy onder die bed kan wegkruip totdat jy beter voel. Jy bevind jouself skaars in hul geselskap voordat dit vir jou voel asof jou energie deur jou vingerpunte tot op die vloer drup en wegsyfer.

Dit maak nie saak hoe sterk jy staan of hoe hard jy konsentreer om ’n sinvolle gesprek te voer nie, teen die tyd dat jy die hasepad kies, is jy heeltemal gedaan.

Dan wonder ’n mens of hierdie spesifieke persoon meer energie gekry het, as joune so sigbaar minder geword het.

Daar bestaan darem ’n tussen-in – positiewe moegheid. Die moegheid wat ’n mens oorval nadat jy met goeie vriende gekuier het of werk van hoogstaande gehalte gelewer het.

Jou energie is baie goed gebruik en moet net weer herlaai voordat jy verder optimaal kan funksioneer.

’n Mens is dankbaar vir diegene wat nie energiesuiers is nie. Mense wat waarde tot die lewe en tot ander mense toevoeg.

Dankie vir mense vir wie jy kan sê: “Dit voel soos ’n mikro-vakansie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article